Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 10 FEBUARIE 2008

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of d.m.v. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Johan, ZS6JPN, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat Piet, ZR6AUR, op 26 Desember 2007 na ’n hartaanval oorlede is.

Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

PLAASLIKE KLUBVOORSITTERS BESPREEK TOEKOMSTIGE ONTWIKKELINGS BY DIE RTA IN KAAPSTAD

TRUST STEL NUWE TRUSTEES AAN

SARL VEREENVOUDIG ZU-KLAS RAE-PROSEDURES VIR KLUBS

AMSAT NA SE PRESIDENT GAAN DIE SA AMSAT-RUIMTESIMPOSIUM OP 19 APRIL TOESPREEK

SLUIT TEEN HALFPRYS BY DIE SARL AAN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

PLAASLIKE KLUBVOORSITTERS BESPREEK TOEKOMSTIGE ONTWIKKELINGS BY DIE RTA IN KAAPSTAD

Plaaslike klubvoorsitters sal saam met die SARL-President, Graham Hartlett, ZS6GJH, aan ’n oop paneelbespreking deelneem tydens die RTA in Kaapstad op Saterdag 8 Maart 2008.

Rassie Erasmus, ZS1YT, voorsitter van die Boland Amateurradioklub, Fred Scheepers, ZS1FCS, voorsitter van die Oakdale Amateurradioklub, Len van Riel, ZS1LEN, voorsitter van die Overberg Radioklub en Dave Reece, ZS1DFR, voorsitter van die Cape Town Amateur Radio Centre sal hulle opinies lug oor die ontwikkelings in amateurradio oor die volgende vyf jaar. Ondersteun u klubvoorsitters in hierdie interessante en insiggewende debat.

Die RTA-program sluit ’n aantal opwindende aanbiedinge wat die misterie van die nuutste tegnologie in bruikbare inligting omskakel wat jou amateurradioaktiwiteite kan verryk.

Besoek www.sarl.org.za klik op “activities” en kies RTA om die volledige program met tyd- en plekbesonderhede, te kry.

TRUST STEL NUWE TRUSTEES AAN

Die Suid Afrikaanse Amateurradioontwikkelingstrust het twee nuwe trustees aangewys om aftredende raadslede te vervang. Die afgetredendes is Tony Reumerman en Dr Pieter Rademeyer. Die nuwe raadslede is Smangele Nkosi en Hannes Coetzee, ZS6BZP. Die Raad het met hierdie aankondiging tydens sy vergadering laas Woensdag die uittredende lede bedank vir hul ondersteuning en diens aan amateurradio en ook die nuwe lede verwelkom.

Die SARL en SA AMSAT het elk een lid or die raad wat jaarliks deur hul organisasies genomineer word.

Die Trust het besluit dat een van die promosietemas vir 2008 Sagteware Gedefineerde Radio sal wees. Hulle verwag om opleidingsmateriaal en ’n inleidende projek in boustelvorm beskikbaar te stel. Volledige besonderhede behoort teen die einde van April op die web beskikbaar te wees.

SARL VEREENVOUDIG ZU-KLAS RAE-PROSEDURES VIR KLUBS

Na die eerste suksesvolle (ZU-) of intreevlakeksamens laasjaar deur die Highway Amateurradioklub aangebied, het die SARL die lesse daaruit geleer toegepas om met ’n vereenvoudigde prosedure vorendag te kom.

Klubs wat aan die SARL ge-affilieer is word genooi om plaaslike eksamens vir die intreevlak amateurradiolisensie so dikwels as nodig te reël. Die prosedures wat gevolg moet word is beskikbaar op die ledeblaaie van die SARL-webruimte by www.sarl.org.za. Kies "members only" regs bo-op die tuisblad en tik jou roepsein en PIN in.

AMSAT NA SE PRESIDENT GAAN DIE SA AMSAT-RUIMTESIMPOSIUM OP 19 APRIL TOESPREEK

Deur middel van moderne tegnologie gaan die president van AMSAT Noord Amerika, Rick Hambly, W2GPS, ’n toespraak lewer oor die nuwe verwikkelings oor amateurradiosatelliete. Hy sal ook van die huidige projekte bespreek. Die konferensie vind op 19 April by die Universiteit van KwaZulu-Natal plaas. Vroeë besprekings open volgende week. Besoek www.amsatsa.org.za vir besonderhede en ’n registrasievorm.

SPLINTERNUWE SARL ELEKTRONIESE ROEPSEINBOEKPROGRAM VIR JOU PR BESKIKBAAR

Die SARL is verheug om aan sy lede aan te kondig dat jy nou ‘n splinternuwe opsieryke roepseintoepassing vir jou persoonlike rekenaar kan aflaai om die ou uitgawe te vervang wat ‘n aantal jare gelede op ‘n kompakte skyfie beskikbaar gestel was.

Die nuwe program beskik oor ‘n meer vriendelike moderne gebruikerskoppelvlak en meer sorteringsopsies en ekstra inhoud onttrek van die internet vir dié wat oor internettoegang beskik. Die program sluit ook ‘n opdatum lys van herhalers in.

Die program beskik oor die vermoë om outomaties opdaterings aan die databasis sowel as aan die program waar te neem. Sodra opdaterings waargeneem word, kan die program dit aflaai en vir jou installeer, dus hoef dit nie per hand gedoen te word nie.

Vir diegene wat verkies om opdaterings per hand te doen, bestaan daardie opsie egter ook.

Besoek www.sarl.org.za en op die roepseinbladsy klik op die elektroniese roepseinskakel in die linkerhandse spyskaart om jou kopie vandag nog af te laai.

SLUIT TEEN HALFPRYS BY DIE SARL AAN

Indien u nie vantevore ’n SARL-lid was nie, of u lidmaatskap jare gelede al verval het, kan u nou teen halfprys aansluit en lidmaatskap vir die volgende paar maande uitprobeer. Die koste vir volle-lidmaatskap beloop slegs R170. Deur nou aan te sluit sal u outomaties ’n hernuwingsfaktuur teen die einde van Mei ontvang om u lidmaatskap vir die volgende jaar vanaf 1 Julie 2008 tot Junie 2009 te verleng. Doen dit nou, ontvang die volgende uitgawe van Radio ZS en kry toegang tot die “slegs vir lede” deel van die SARL-webwerf.

Volledige besonderhede oor hoe om aan te sluit kan by www.sarl.org.za gevind word. Klik op “membership” of bel vir Vee Antal, ZS6ZEN, weeksdae tussen 09:00 en 13:00 by 011 675 2393. Lidmaatskap van die Nasionale liggaam vir Amateurradio is ’n versekeringspolis vir toegang tot die amateurradiospektrum in die toekoms. Voeg jou spierkrag by die SARL.

RF-VRY GEBIED VIR DIE VKO

In verlede week se program van Amateur Radio Mirror International is ‘n onderhoud met Andrew Tiplady uitgesaai waarin hoe die Sterrehundige Geografiese Wet gebruikers van die RF-spektrum sal affekteer in die gebiede waar die Vierkant Kilometer opstelling beplan word. Die onderhoud is nou op www.sarl.org.za beskikbaar. Klik op ‘publications’ en kies ARMI.

KLUBNUUS

OTL Radioamateurklub het hul Algemene Jaarvergadering op Saterdag 2 Februarie 2008 gehou.

Die volgende lede is tot die bestuur van die klub verkies:
David, ZS6VS – Voorsitter;
Nico, ZS6MAJ – Visevoorsitter;
Gerrie, ZS6GDL – Sekretaris;
Len, ZR6LEN - Tesourier.

Die OTL-herhaler is op die Sentechtoring buite Middelburg met die ontvangsantenna op 180 m en die senderantenna op 120 m bo die grond geinstalleer. Die frekwensie is 145,737 5. Nog drie gekoppelde herhalers word beplan binne 'n maand of twee en belangstellendes sal van die frekwensies ingelig word.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees behalwe gedurende 10 tot 13 Februarie wanneer onrustige vlakke verwag word. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noord-Oos- en Noord-Wespaaie maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noordelike rigtings.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van kort, flou 20 m-openinge na Australië vanaf ongeveer 08:00. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike kort, flou 15 en 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 19:00 is daar moontlike flou 15, 20 en 80 m-openinge na die VSA.

10 MHz lyk na sononder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Vir die SARL-Velddag gaan plaaslike toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort goeie resultate oor die langer afstande te lewer. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

9 en 10 Februarie - SARL HF-velddag;
16 Februarie - Sluitingsdatum vir nominasies vir SARL-toekennings;
24 February - BHF/UHF Sprint;
8 Maart - RTA in Kaapstad.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger, ZR3RC, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003